Dié artikel het bykomende verwysings nodig vir verifikasie. |
Gnostisisme (afgelei van Grieks gnosis "kennis") is 'n sinkretistiese filosofiese en religieuse beweging wat 'n aantal verskillende geloofstelsels in die Christelike en daarnaas ook Joodse en Egiptiese wêreld behels. Hulle gemeenskaplike geloofsbasis is die oortuiging dat mense goddelike siele is wat in 'n stoflike wêreld gevange is. Gnostici glo dat die stoflike wêreld deur 'n onvolkome gees of skeppergod, die demiurg, geskep is en oorheers word, wat dikwels ook as 'n beliggaming van die kwaad of die Abrahamse god van die Hebreeuse Skrifte (die Ou Testament) geïdentifiseer word.
Daar bestaan 'n ander, hoër wese of God, wat die goeie beliggaam, maar vanweë sy groot afstand van die mens en sy enigmatiese en onkenbare natuur moeilik ervaarbaar word. Om hulleself van die onvolkome stoflike wêreld te kan bevry benodig 'n mens gnosis of esoteriese spirituele kennis wat net vir 'n geleerde elite beskikbaar is. Sommige Gnostiese groeperings identifiseer Jesus van Nasaret as 'n beliggaming van die Christus wat met sy vleeswording gnosis na die Aarde gebring het.
Gnostiese Christene het dikwels geen vaste kerkorganisasie ontwikkel nie, maar het eerder geprobeer om deur middel van 'n persoonlike soektog die spirituele vereniging met die goddelike te ervaar, en hiervoor was suiwer geloof nie voldoende nie.
Gnostisisme was in die eerste eeue voor Christus baie gewild in die Mediterreense en Oosterse gebiede en het ook tot 'n magtige beweging in die vroeë Christendom ontwikkel, maar is later, toe sy mededingers, die destydse proto-ortodokse stromings, tot die amptelike religie in die Romeinse Ryk verklaar is, as 'n dualistiese kettery beskou en onderdruk. Met die uitbreiding van Islam is die aantal Gnostici gedurende die Middeleeue steeds verminder, alhoewel daar ook in Wes-Europa magtige Gnostiese bewegings soos die Kathare ontwikkel en kleiner geïsoleerde groepe deur die eeue heen bestaan het.
Die term Gnostisisme het eers in die 17de eeu gebruiklik geraak en is destyds gebruik om na 'n verskeidenheid antieke Christelike bewegings te verwys wat deur hulle tydgenote as radikaal dualistiese groeperings beskou is en wat die hoogste trap van verlossing deur middel van esoteriese openbaring en mistiese spiritualiteit wou bereik.
Gnostiese stromings en leerstellings het in Europa en Noord-Amerika in die filosofieë van verskillende esoteries-mistiese bewegings van die 19de en 20ste eeu weer 'n belangrike rol gespeel. 'n Aantal groepe beweer dat hulle herstigte moderne weergawes of voortsettings van vroeëre Gnostiese bewegings is.
Met die herontdekking van Christelik-Gnostiese tekste soos die Nag-Hammadi-geskrifte was dit moontlik om die kennis aangaande die Gnostiese beweging aansienlik uit te brei. Alhoewel die presiese verhouding tussen Gnostisisme en die vroeë Christendom tans in baie opsigte nog onduidelik bly, toon die Evangelies van Thomas en Maria (waarin Maria Magdalena as 'n leidende apostel beskryf word), moontlik ook dié van Johannes, wat volgens sommige navorsers deur Maria Magdalena geskryf is, Gnostiese trekke.
Die Gnostiese Christendom het blykbaar die leerstellings van Jesus as die pad van verlossing beklemtoon – en nie sy dood en opstanding nie. Sommige Christene het hul geloof na aanleiding van die Gnosties-Christelike tekste begin herwaardeer en wegbeweeg van die ortodokse tradisie na 'n spirituele Christendom. Kerke soos die Ecclesia Gnostica in die Verenigde State en die Ecclesia Gnostica Aeterna in Europa het voortgespruit uit die herontdekking van Jesus van Nasaret se spirituele boodskap.
Die geskiedenis van die Gnostisisme hou nou verband met die geskiedenis van die Christendom. Hoewel elemente van voor-Christelike okkultisme, die Judaïsme, astrologie, Zoroastrisme en Griekse filosofieë 'n belangrike deel van die Gnostisisme vorm, het die Gnostisisme as selfstandige godsdiens eers werklik saam met die vroeë Christendom ontwikkel en gegroei.